GOUE DROME
 
Jou musiek ... ons passie!



Carina Renz
Chandré
Chandré

Gouwsie

Jerome Alden 

John Perkins 

Kaalvoetklong 

Marinus van Rooyen

CHEREé DRUK NUWE STEMPEL AF MET

“IN MY DROME”

 

Sarel Botha gesels oor …

 

(26/04/2010) Uiteindelik het ek die  langverwagte kopie van hierdie album in my hand en ek luister, oor-en-oor en nog meer en weer ‘n keer. In ‘n   neutedop is Chereé se splinternuwe album, IN MY DROME, ‘n bymekaartrek van haar grootste treffer, ‘n fees van duette en klemverskuiwende nuwe repertoire wat die jongmeisie Chereé afskud en in plek daarvan met ‘n afgeronde Lady Chereé te voorskyn kom.

 

30 DAE-atmosfeer

 

Met die opgekikkerde opname van 30 DAE IN DIE SOMER, het Chereé die regte ding gedoen omdat hierdie liedjie nog nie werklik maksimum potensiaal in die mark behaal het nie. Alhoewel die album reeds met 16 top snitte spog en dus meer gee as die gewone 12 snitte op ‘n album, sou ek dit geniet het as daar nog twee snitte was wat in die einste 30 DAE-atmosfeer geskep is … dit is so uniek aan Chereé dat ek meen hierdie patroon moet ‘n voortsetting hê – ek mis dit op die album, maar miskien is dit omdat ek maklik nostalgies raak oor musiek.

 

Droomvrou reeds 4 weke op BAY FM VAT 5 MET ‘FEEL’

 

Verskeie duette pronk op IN MY DROME. Die een wat beslis kop-en-skouers bo die ander uitstaan is DROOMVROU wat me Chereé Strydom (ten tye van die opname nog me Chereé Large) met mnr Wynand Strydom opgeneem het en wat deur William Blackrose gekomponeer is. Wynand se stem en    aanslag rond hierdie lied af om dit treffermateriaal te maak en dit het die potensiaal om verskeie van die top duette in die land te klop. Dit is dus nie sonder rede nie, dat hierdie snit alreeds 4 weke lank op die BAY FM VAT 5 MET ‘FEEL’ - die BAY FM treffersparade vir gevoelsmusiek is. Dit is my nommer een snit op die album.

 

Snotkop en Sarah Theron

 

Chereé het ook met Snotkop 9 TO 5 opgeneem in ‘n kraakvars verwerking van hierdie reeds bekende snit wat baie oortuigend is en goed op die oor val. En nog ‘n verrassing is die duet saam met Sarah Theron, wat onteenseglik toon hoe eenders die ‘kleur’ van hierdie twee dames se stemme is. Chereé se stemkleur het ook beslis ‘n graad of twee verdiep sedert haar vorige album. Sarah Theron is self besig om ‘n stewige pilaar in die musiekbedryf te word en samewerking met Chereé op hierdie gebied is beslis tot voordeel van beide    hierdie fenomenale kunstenaars. Nog meer hiervan vorentoe, sal ‘n bonus wees vir hulle ondersteuners.

 

Oos-Kaap is trots

 

My nommer twee keuse van ‘n snit op hierdie album is …. ta-da-da! … HIER IS MY HART. En nou weet ek sommer dié koor gaan opgaan: “Ja, dis omdat jy vir Semandie Gerber, wat die liedjie geskryf het, ken en ook omdat sy uit die Oos-Kaap kom.” En my onmiddellike antwoord hierop is: “Heeltemal reg, maar met die wete dat Semandie reeds bekend is vir uitstekende liedjies wat sy skryf en ook omdat sy met hierdie deurbraak die Oos-Kaap trots gemaak het en dat dit juis in samewerking met Chereé wat ‘n vriendin van die Oos-Kaap gebeur het maak dit ons soveel te meer trots. Ons wil nog baie meer sulke en groter deurbrake vir Oos-Kaapse talent bewerkstellig. Vir dié wat dus wonder: Dit is in die eerste plek ‘n  deurbraak vir Semandie en die Oos-Kaap en in die tweede plek ‘n liedjie wat uiters luisterbaar, melodieus en treffermateriaal is. Juis daarom is dit my tweede keuse uit al die snitte op IN MY DROME. Dit verdien die tweede plek in my boekie. Ek meen ons behoort die hoed te lig vir Huisgenoot-Tempo wat met hulle liedjieskryfkompetisie die opneem van hierdie liedjie moontlik gemaak het.

 

Pierre en Tony se liedjies vat raak

 

Hou gerus ook die snitte IN MY DROME (titelsnit), TIEK TOK en KLOP VAN MY HART dop – die album gaan keer-op-keer herleef en dan sal hierdie drie snitte opnuut, en waarskynlik om die beurt, belangstelling in die album stimuleer. Dit lyk asof liedjieskrywers Pierre Rossouw en Tony Ridgway raakvat wanneer dit by Chereé-musiek kom.

 

Die Engelse mark gaan beslis hou van Chereé se weergawe van Lize Beekman se MAYBE I, wat ek meen onder radiostasies se neuse gevryf behoort te word … veral daardie stasies wat nie Afrikaanse musiek deel van hulle speellyste maak nie en dus nie veel belang by die res van Chereé se album het nie.

 

 

 

Wegbeweeg of skuif van grense?

 

‘n Vraag wat met die verloop van tyd beantwoord sal word, is of hierdie Chereé-album ‘n effense wegbeweeg van kommersiële musiek is en of dit dalk veel eerder ‘n verskuiwing van die grense van kommersiële musiek is. Laasgenoemde is ‘n proses wat na my mening besig is om in die Afrikaanse mark plaas te vind, veral met die toetrede van soveel nuwe talent wat met nuwe idees na vore kom en ook die feit dat dieper en soms selfs alternatiewe musiek, al hoe meer byval begin vind en sodoende die grense van kommersiële musiek begin vervaag. IN MY DROME is sonder twyfel ‘n album wat floreer op die sogenaamde “groei”-element, wat beteken dat hoe meer jy daarna luister, hoe meer groei dit op jou en vang dit jou onkant wanneer jy onverwags die wysies neurie en dit goedsmoeds deel word van die bloedstroom deur jou hart.

 

Een feit staan soos ‘n paal bo water: Chereé het weer bevestig sy is hier om te bly en sy speel steeds ‘n toenemend prominente rol in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiekbedryf. En knik maar goedkeurend as sy weer voor jou op die verhoog staan: Sy is nou Lady Chereé en ‘n voorbeeld waarna ons almal maar kan opkyk.

Lewer kommentaar op hierdie berig ... klik hier!

********

Die Hemel Weet … M Jackson reik na die stêrre

Sarel Botha

(April 2010) Dit is min dat ‘n nuwe sanger my werklik opgewonde maak. Laas was ek opgewonde oor Bobby van Jaarsveldt toe hy ‘n paar jaar terug by die KKNK met sy Neil Diamond-keurspel almal met sy besonderse stem verras het. Hierdie jaar het ek weer die voorreg gehad om ‘n hele klompie nuwe talent te sien en te hoor en veral een het my sonder twyfel baie beïndruk: Manie Jackson.

 

Manie het verlede Vrydag by die KKNK-afskop net twee liedjies voorgedra en die heel eerste liedjie wat hy gesing het, DIE HEMEL WEET, het my absoluut verstom. Vir my is musiek die belangrikste bestanddeel van enige liedjie en liriek kom so net-net tweede.    Hierdie liedjie is na my mening ‘n voorbeeld van ‘n tipiese liedjie wat  nie net my belangstelling lok nie, maar voel asof dit uit die bodem van Afrikaans en ons mense se harte kom.

 

Manie beskik oor uitstekende vokale vermoëens en dit is duidelik dat hy in die verloop van sy dertien jaar in die musiekbedryf ervaring opgehoop het en ook ‘n ten volle ontwikkelde stem wat duidelik blyk uit die stylvolle vertolking van sy   liedjies.

 

Manie sing hoofsaaklik Afrikaanse Country en veral twee liedjies op die spesiale uitgawe van sy mini-album is iets wat die Afrikaanse publiek gaan troetel vir dekades vorentoe: Die Hemel Weet & Engele. Volgens Select Musiek se webblad beskik Manie nog nie oor ‘n Select-album nie … hou gerus hierdie nuusbrief dop om jou kopie te kry sodra dit beskikbaar word.

 

Intussen kan jy gerus luister na MUSIEK MET ‘FEEL’ op Sondagaande tussen 19:00 en 20:30 op BAY FM 107.9, waartydens ek  beslis onder andere Manie se musiek sal speel. Luisteraars via die internet kan  inskakel op www.bayfm.co.za.

 

Lewer kommentaar op hierdie berig ... klik hier!

South Africa's Top Sites